DIE GROOTSTE GEK | |
  |
DAAR WORD VERTEL van 'n hofnar wie se werk dit was om die koninklike huis-houding met sy grappe en fratse te vermaak. Die koning het hom 'n staf gegee met die opdrag om dit te hou totdat hy iemand teëkom wat 'n groter gek as hy self is. Op 'n dag het die koning skielik ernstig siek geword en sy toestand het vinnig verswak. Die nar het dit te hore gekom en hom na die koning se siekekamer gehaas om sy heer op te beur. Die koning was egter nie lus vir grappies nie. "Helaas!" het hy angstig uitgeroep, "ek gaan op 'n lang reis." "Waar gaan my heer dan heen?" wou die nar weet. "Ek weet nie," antwoord die koning met 'n sug. "En wanneer sal die koning terugkom?" vra die nar verder. "Ek sal nie weer terugkom nie," was die koning se antwoord. "En het my heer voorbereidings getref vir die reis?" vra die nar. "Helaas, nee.... ek het nie.... en ek is baie beangs!" sê die koning, vreesbevange. Terwyl die nar by die bed kniel, plaas hy die staf in die koning se hande. "My heer," sê hy, "u is 'n groter gek as ek, want u gaan op 'n lang reis waarvandaan u nie sal terugkeer nie, en u het geen voorbereidings getref nie!" Daar is geen groter gek as die persoon wat versuim om voor-bereidings te tref vir sy ewige bestemming nie. Hierdie lewe is so volgepak met dinge waarmee ons heeldag besig is, dat dit maklik is om die ewigheid buite rekening te laat. Maar die ewigheid wag iewers vorentoe op die pad, en elkeen van ons moet vroeër of later daardie lang reis onderneem. Hoe wonderlik dat God in Sy Seun alles tot ons beskikking gesteI het wat nodig is om ons vir die reis voor te berei! - Oorgeneem |